40 Oeste.

Jou tyd op die plaas. Jou storie om te vertel.

Boerdery is nie iets wat jy kies nie. Dit kies jou. Dis iets wat in jou bloed lê, lank voordat jy self besluit wat jy eendag wil doen. Dis die grond waarop jy grootword, die mense wat saam met jou werk, en die verantwoordelikheid wat jy van geslag tot geslag dra.

Daar kom goeie jare en daar kom moeilike jare. Daar is tye wat die reën op die regte tyd val, en tye wat jy wag, hoop en bid dat dinge sal draai. Maar ten spyte van alles, bly die liefde vir wat jy doen altyd sterker as die swaarkry. Dis hoekom boere aanhou. Dis hoekom jy elke seisoen weer begin.

“Dit is ’n liefde, dit is nie net ’n werk nie.”

Wat is

40 Oeste

Daar word gesê elke boer kry net ’n sekere aantal oeste in sy of haar leeftyd om ’n verskil te maak. Om te bou. Om iets beter agter te laat. Vir baie is dit omtrent veertig oeste waarin jy jou merk maak op die plaas, in jou familie, en in die toekoms van jou boerdery.

40 Oeste is gebore uit hierdie waarheid. Dis ’n veldtog wat erken dat boerdery nie net oor opbrengs gaan nie, maar oor nalatenskap. Oor wat jy oordra, wat jy leer, en wat jy eendag agterlaat vir die volgende geslag. Dit gaan oor meer as vandag se oes. Dit gaan oor dit wat lank ná jou nog sal bly staan.

“Ons gee nie eendag die grond vir ons kinders nie, ons leen dit by hulle.”

Dis juis hoekom 40 Oeste die stories wil vasvang wat soveel dieper loop as net ’n seisoen se resultate. Die stories van mense wat met geloof, vasbyt en verantwoordelikheid werk aan iets wat groter is as hulleself.

Ontmoet die aanbieder

Reandi Grey

Reandi Grey bring hierdie stories na die voorgrond. Met haar natuurlike manier met mense en haar opregte liefde vir die landboubedryf, skep sy ’n ruimte waar boere hul stories kan deel soos dit werklik is.

Sy verstaan dat boerdery nie net oor sukses gaan nie, maar oor die pad daarheen. Oor die uitdagings, die onsekerheid, die familie agter die skerms, en die oomblikke wat jou vorm. Met 40 Oeste help sy om die mens agter die boerdery te wys en om elke storie die erkenning te gee wat dit verdien.

Reandi

Hoekom jou storie

saak maak

Elke plaas het ’n storie. Elke boer dra iets wat die moeite werd is om te hoor. Dit gaan nie oor hoe groot of klein jy boer nie, of oor hoeveel generasies voor jou daar was nie. Dit gaan oor jou reis. Hoe jy hier gekom het. Wat jy moes leer. Wat jy moes oorkom. Wat jou elke dag weer laat opstaan en aangaan.

Ons wil hoor hoe jy die droë jare deurstaan het en wat jy geleer het in die nat jare. Ons wil verstaan hoe jy uitdagings oorkom het, hoe jy plan gemaak het wanneer dinge swaar geraak het, en hoe jou familie deel vorm van die boerdery wat jy vandag bestuur.

Boerdery gaan nie net oor vandag se oes nie, maar oor die nalatenskap wat jy met elke seisoen, elke tree en elke dag op die land bou vir die geslagte wat ná jou kom. Dis nie net die reën of die grond wat ’n oes maak nie, maar die hande, die hart en die spore wat jy los, spore wat lank ná jou nog in die grond en in jou familie sal voortleef.

“ ’n Boer se voetspore is die beste kunsmis wat die land kan kry. ”

Dis in jou bloed.

Ons is lief vir wat ons doen. Ons is lief vir die grond. Ons is lief vir die mense wat dit bewerk. En al bring elke seisoen sy eie uitdagings, bly die goeie tye altyd sterker as die slegte. Dit is wat jou laat aanhou. Dis wat jou laat glo. Dis wat jou laat terugkom, oor en oor.

Vertel Jou

Storie

As jy ’n boer is met ’n storie om te vertel, wil ons van jou hoor.

Ons wil weet hoeveelste generasie jy is, waar jy vandaan kom, wat jy oorgeërf het, en wat jy eendag wil agterlaat. Ons wil hoor van jou familie se rol, van die uitdagings wat jou gevorm het, van die droë en nat jare wat jou geleer het om anders te kyk, en van die liefde wat jou steeds aan die gang hou.

40 Oeste is ’n plek waar die menslike kant van boerdery erken en gevier word. ’n Plek waar jou storie nie net gehoor word nie, maar waardeer word.

Vul die vorm in en vertel ons jou storie.

Jou besonderhede - Stap 1 van 5

Kopiereg © 2026 CASE IH Gebeure | Alle Regte Voorbehou

Scroll to Top